Skip to main content Skip to footer

Onderhoud | Eleanor Lombard

Kom ons leer ken vir Eleanor Lombard

Eleanor Lombard is in 1950 in Kaapstad gebore. Na haar skoolloopbaan verwerf sy ’n BA graad aan Tukkies, ’n onderwysdiploma (met lof) in Potchefstroom en ’n honneursgraad in geskiedenis aan UNISA. Tydens haar onderwysloopbaan is sy lektrise in Afrikaans aan die Bellville Opleidingskollege. Sy en haar man, Pieter, is lief vir reis en sy publiseer gereeld reisartikels. Sy skryf ook verskeie radiodramas en was ’n finalis in die RSG/Sanlam radiodrama-skryfkompetisie. Sy debuteer in 2022 met Jy handle dit net. Eleanor en Pieter woon tans in Tergniet, naby Mosselbaai. Sy is die ma van drie kinders en die trotse ouma van twee kleinkinders.

Lees gerus ons vrae aan haar:

Wat het jou geïnspireer om Vasbyt Vyf te skryf?

Spanningsverhale is nie net vir grootmense nie. Daarom het ek gehou van die uitdaging om 'n naelbytstorie vir kinders te skryf. Terselfdertyd het ek die verhaal gebruik om die kinders subtiel meer weerbaar te maak teen die gevare van kinderhandel

Wat is vir jou die lekkerste deel van skryf vir ‘n jonger mark?

Daar is seker maar nog 'n bietjie kind in my sodat dit nie vir my moeilik is om my in te dink hoe kinders voel en dink nie. En dan hou ek van kinders se eerlikheid. As hulle hou van die storie sal jy dit hoor. Maar ook andersom!

As jy ’n karakter in Vasbyt Vyf kon wees, wie sou jy wees?

Dis nogal 'n moeilike een. Ek hou van Jaco se voortvarendheid, Handré se humorsin, Lerato met haar oopkophhouding en Karli se spontaniteit. Maar die sagte Bella is seker my gunsteling.

Kan jy dalk vir ons ’n agter-die-skerms-kykie gee van jou skryfproses?

As ek eers my storielyn uitgedink het, skryf ek nogal maklik. En as ek sukkel om aan die slaap te raak, kry ek partykeer goeie idees.

Kortantwoordvragies:

Is jy ’n naguil of ’n “early bird”?

Definitief 'n naguil. Soggens sukkel ek maar om aan die gang te kom.

Verkies jy ietsie soets of eerder sout?

Helaas, iets soets. En die skaal kan dit bevestig!

Somer of winter?

Beslis die somer. Ek haat dit om koud te kry.

Honde of katte?

Ek kies eerder 'n hond, maar het ook al 'n kat gehad waarmee ek goed oor die weg gekom het.

Feite of fiksie?

Ek hou daarvan om analities te dink, maar fiksie gee jou vlerke!